Sake24
Agter die nuus
Saterdag 23 April 2011
Opknapwerk wat jou huis en sak pas
'n Mens dink nie so daaroor nie, maar finansiering is die heel belangrikste deel van enige opknap-projek vir jou woonplek. Dis dikwels die laaste ding waaraan ons dink - dis mos baie lekkerder om planne vir nuwe badkamers, meubels en kombuise te maak. Hier is idees wat jou sak en jou huis kan pas, skryf Letitia Watson en Elsolet Joubert.
Kostedoeltreffende raad vir binne
Die Kaapse dekor-ghoeroe me.Margaux Smit gee die volgende raad vir wanneer jy die verfkwaste en teelsnyer vir 'n opknapsessie nader trek?
- Langblywende en duur uitgawes soos muurpapier en vloerteels moet met die oog op langtermyngebruik uitgesoek word. Hou dit liefs generies - jy sal dalk lank moet saamleef met daai pienk strepe waarvan jy nou so baie hou.
- Dis goedkoper om jou bad weer 'n lagie emalje te laat gee as om die ou bad uit te breek en 'n nuwe een te laat insit.
- Hou altyd die herverkoopwaarde van jou huis in ag - jou opknappingswerk moet waarde toevoeg en dit nie verminder nie. Dink daarom mooi voordat jy die muur uitslaan wat jou met twee slaapkamers pleks van die oorspronklike drie los.
- Ingeboude bergplek maak nie net jou lewe makliker nie, maar verhoog ook die herverkoopwaarde van jou huis.
- Kyk eers wat jy self het voordat jy nuwe meubels koop. 'n Lagie verf is die maklikste en kostedoeltreffendste manier om 'n ou meubelstuk splinternuut te laat lyk. Mooi sierkussings en 'n deken met tekstuur kan 'n ou meubelstuk nuwe lewe gee en jou geld spaar.
- Eklektiese dekor is steeds groot nuus en 'n kostedoeltreffene manier om jou eie stempel op jou huis af te druk. Jy kan byvoorbeeld 'n klomp van jou verskillende stoele wit verf en om 'n wit eetkamertafel groepeer. Dit sal hulle as 'n geheel bind hoewel daar mooi vormverskille is. Verskillende teksture en vorms kan neutrale kleure visueel baie interessant maak.
Op Smit se blog (http://dotsvsstripes.blogspot.com) is daar goeie idees.
- Neutrale kleure is ook generies en is gewild by die breer mark. Dit sal dit vir jou makliker maak as jy 'n nuwe kleurskema wil he of wil verkoop as 'n skelrooi fokusmuur wat minstens drie lae verf gaan nodig he om oor te verf.
- Stensilwerk is goedkoper as muurpapier en as dit reg gedoen word, kan dit ook mooier lyk. Kyk byvoorbeeld na Tracy Lee Lynch (http://www.leelynch.co.za/) se stensils.
- Gelamineerde vloere kan op 'n kostedoeltreffende manier die effek skep van werklike hout, wat steeds baie gewild is.
- Dis die perfekte tyd om omgewingsvriendelik te word deur byvoorbeeld energiedoeltreffende warmwatertoestelle of skottelgoedwassers en gryswater-opvangstelsels deel van jou plan te maak.
No comments:
Post a Comment